Читать книгу Wanneer God jou vashou - Johan Smit - Страница 30
26 Januarie
ОглавлениеOm ’n herder vir die skape te wees
Toe hulle klaar geëet het, vra Jesus vir Simon Petrus: “Simon seun van Johannes, het jy My baie lief, meer as hulle hier?” “Ja, Here,” antwoord hy Hom, “U weet dat ek U liefhet.” Hy sê toe vir hom: “Laat my lammers wei.” Johannes 21:15
~
Kom ons gee vir Petrus nog ’n beurt. Die toneel is kort voor Jesus se hemelvaart. Jesus het ná sy opstanding aan sy dissipels verskyn by die see van Galilea (Tiberias). Die atmosfeer is effe gespanne. Onwerklik. Die dissipels weet nie presies wat om te verwag nie. En Petrus is verleë. Hy het vir Jesus verloën. Die haan se gekraai is nog ’n aanklag in sy ore. En dan praat Jesus …
“Simon, seun van Johannes, het jy My baie lief, meer as hulle hier?” Toe weet Petrus: die tyd vir boeke opmaak het gekom. Hy verklaar sonder skroom sy liefde vir die Here. Dit lyk tog of hy nog ’n kans kry. Hy gryp die kans met albei hande aan. Maar dan herhaal Jesus die vraag, ’n tweede en derde maal. Wat sou dit tog beteken? Dat Jesus hom nie glo nie? Veral nie ná die verloëning nie? Hoe op aarde sal hy tog vir Jesus daarvan kan oortuig dat hy Hom hartstogtelik liefhet?
Die antwoord word gevind in Jesus se reaksie op sy liefdesverklaring: Pas my skape op. Bewys jou liefde deur jou diens. En dit was Petrus se grootste uitdaging. Jesus sou binnekort weggaan. Sy skape bly agter. En Petrus word as herder aangestel, ’n herder op die voetspoor van die hemelse Herder.
Liefde in aksie, liefde wat inderdaad bewys word, liefde wat van ons vra om ons moue op te rol, skouer aan die wiel te sit en ’n herder vir die skape te wees.
Bewys jou liefde deur jou diens.