Читать книгу Wanneer God jou vashou - Johan Smit - Страница 40

4 Februarie

Оглавление

Groen weivelde

Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. Hy laat my rus in groen weivelde … Psalm 23:1–2

~

Ja, goed, ek weet dat die Psalm heelpad vertroostend klink. Dit gaan tog immers oor ’n herder wat sy werk ken en behoorlik uitvoer. Hy soek vir sy kudde die beste weiding. En dit is mos presies wat God vir sy kinders wil doen. Die teks wil maar net sê dat God sorg dat sy kinders van hulle nood­saaklike lewensmiddele voorsien sal word.

Dan moet ons seker weer ’n keer luister na al die protesstemme. Hoeveel kinders van God sterf daagliks van die honger? Dalk met die woorde van Psalm 23 op hulle lippe? Ek het nie regtig ’n antwoord vir die probleem nie. Miskien moet ons dink aan die derduisende mense wat daagliks van die honger sou omkom as God se kinders nie in hulle behoeftes voorsien het nie. Maar die­gene wat wel sterf? Ek glo dat hulle ’n ander dimensie van God se liefde ontdek. Hoe tragies dit ook al is dat mense van die honger sterf, is dit nogtans nie die ergste nie, nie as jy aan God se hand sterf nie. “Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie” (Rom 8:18).

En ons wat nog die groen weivelde geniet, laat ons ons daarin verheug. En laat ons die groenigheid so gou en effektief as moontlik deel met diegene wat in ’n woestynlewe voortploeter. As ek die Bybel reg verstaan, seën God sy kin­ders sodat hulle vir ander tot seën kan wees.

In groen weivelde of in die woestynsand – waar is jy? En waar is jou herder?

Wanneer God jou vashou

Подняться наверх