Читать книгу Wanneer God jou vashou - Johan Smit - Страница 31

27 Januarie

Оглавление

Moet ek álles prysgee?!

Jesus het na hom gekyk en hom liefgekry en vir hom gesê: “Net een ding kom jy kort. Gaan verkoop alles wat jy het, en gee die geld vir armes, en jy sal ’n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My!” Hy het egter geskrik toe hy dit hoor en het bedruk weggegaan, want hy het baie besittings gehad. Markus 10:21–22

~

Besittings, geld en goed, speel in die meeste mense se lewens ’n baie belangrike rol. Dit is die sekuriteite waarmee hulle vir hulself ’n gemaklike en voorspoedige lewe verseker. Dit gebeur so maklik dat mense aan hierdie aardse goed verknog raak, dat dit vir hulle só kosbaar raak dat dit onmoontlik raak om daarvan afstand te doen.

Dié jongman was nie ’n losbandige losbol nie. Hy was ’n goeie godsdiens­tige Jood. Hy het die wet geken en onderhou. En hy wou graag nog meer weet oor dinge met ewigheidswaarde. Toe Jesus hom met soveel entoesiasme hoor praat, het Hy hom liefgekry. Toe stel Jesus die jongman voor die grootste uitdaging waarmee hy nog gekonfronteer is: “Gaan verkoop alles wat jy het, en gee die geld vir armes, en jy sal ’n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My!” Dit gaan oor ’n keuse tussen skatte op aarde en skatte in die hemel. Jesus wou maar net hê dat die jongman duidelikheid sou kry oor wat vir hom regtig die heel belangrikste is. ’n Belegging in die hemel bring mee dat ’n mens jou aardse goed as van minder belang moet reken; dat jy die nood van jou medemens ernstig sal neem, en dat jy vir Jesus sal volg. En ’n mens kom uit die verhaaltjie agter dat hoe ryker ’n mens is, hoe moeiliker is dit om in hemelse skatte te belê.

Hoe ryker ’n mens is, hoe moeiliker is dit om in hemelse skatte te belê.

Wanneer God jou vashou

Подняться наверх