Читать книгу Wanneer God jou vashou - Johan Smit - Страница 38
2 Februarie
ОглавлениеNiks sal my ontbreek nie
Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. Psalm 23:1
~
Die algemene stelling dat die Here my herder is, is alreeds gerusstellend. Dit roep onmiddellik ’n beeld van sorgsaamheid en beskerming op. God pas my op. En heel dikwels herinner ek Hom aan die feit dat Hy vir my ’n herder moet wees. Wanneer ek op reis gaan of ’n moeilike vergadering moet bywoon of sommer net onseker voel – dan soek ek die versekering dat God dáár is, vir my daar is.
Nogtans weifel ons by aanhore van die res van die sin. Ek kom niks kort nie, of soos die ouer vertaling gesê het: Niks sal my ontbreek nie. Dit klink mooi. Maar dit klink nie heeltemal reg nie.
Dink maar net hoeveel van God se kinders leef in haglike omstandighede. Hulle sterf selfs as gevolg van broodgebrek. Ander word weer as gevolg van hulle geloof vervolg en doodgemaak. Kan hulle regtig getuig dat niks hulle ontbreek nie?
’n Mens sal goed moet dink wat jy bedoel wanneer jy verklaar dat jy “niks” sal kortkom nie. Wat het die digter bedoel? Waaroor gaan dit vir ’n skaap? Die heel eenvoudigste of basiese waaroor dit kan gaan, is lewensmiddele. Wanneer ’n dier in die woestyn dreig om van honger en dors om te kom, en hy skielik by ’n oase aanland waar daar kos en water is, kom hy niks kort nie! Hy kan lewe!
’n Mens kan baie dinge kortkom wat die lewe vir jou soveel makliker en aangenamer sou maak. Maar as jy kan lewe, as jy ’n nuwe dagbreek kan beleef en die toekoms, hoe donker ook al, met hoop tegemoet kan gaan, kom daar eintlik niks kort nie. Met God en met die lewe is daar hoop.
As jy die ewige lewe het, kom jy niks kort nie.