Читать книгу Wanneer God jou vashou - Johan Smit - Страница 24
20 Januarie
ОглавлениеJeremia, die breker en bouer
Kyk, Ek stel jou vandag aan oor nasies en oor koninkryke om af te breek en uit te roei, om te vernietig en plat te slaan, te bou en te vestig. Jeremia 1:10
~
Toe die Here vir Jeremia roep om profeet te word, het hy eers heftig wal gegooi. Nee, hy is darem nog te jonk vir so ’n verantwoordelike taak. “Nee,” sê die Here, “jy moet gaan waarheen Ek jou sal stuur, en wat ek jou beveel om te sê, moet jy sê.” En só het die jongman toe sy opdrag ontvang, min wetende wat dit alles vir hom sou kos.
Jeremia het ’n moeilike pad in die Here se diens geloop. Dit was ’n rampspoedige fase in Israel se geskiedenis. Dit was tydens die regeringsjare van die laaste goddelose konings van Israel en die begin van die Babiloniese ballingskap. Jeremia se ernstige waarskuwings het op dowe ore geval, nee, dit het eerder die konings se woede laat ontvlam. Hy is etlike kere gevange geneem en in kerkers opgesluit. Nogtans het Jeremia bly praat: “Só sê die Here!” ’n Mens kan verstaan dat Jeremia se prediking nie deurgaans met entoesiasme ontvang is nie. God het hom immers geroep om af te breek en uit te roei, bedoelende dat hy hom vreesloos teen sondige praktyke moet uitspreek, en probeer om dit wortel en tak uit te roei. Maar hy is ook geroep om te bou en te vestig. God se woord is nooit net oordeel nie; dit is in die eerste plek genade.
Jeremia het die profetiese uitdaging aanvaar en in die Here se krag aangepak. Alhoewel dit ’n pynlike pad was, het hy getrou aan sy roeping gebly. Hoe beny ek nie sy waagmoed en onverbiddelike Godsvertroue nie.
God se woord is nooit net oordeel nie; dit is in die eerste plek genade.