Читать книгу Wanneer God jou vashou - Johan Smit - Страница 26
22 Januarie
ОглавлениеGemaksone of hardepad?
Ek het hulle toe vertel hoe my God sy goeie hand oor my gehou het en wat die koning vir my gesê het. Hulle het gesê: “Kom ons bou!” en hulle het die goeie werk aangepak. Nehemia 2:18
~
Die Israeliete was reeds geruime tyd in ballingskap toe Nehemia op die toneel verskyn. Die Babiloniërs is deur die Perse verslaan en Nehemia het ’n uitsoekpos in die Persiese koning se paleis beklee. Vir ’n banneling was hy in ’n hoogs bevoorregte posisie. Maar toe kry Nehemia op ’n dag berig oor die gang van sake in Jerusalem. ’n Groot klomp bannelinge is vantevore deur die Perse toegelaat om na hulle moederstad terug te keer. Met groot opgewondenheid het hulle die reis aangepak. Maar hoe is hulle nie ontnugter nie! Die stad was vervalle, sonder ’n muur en met ’n tempel wat verwoes is. Daarbenewens het die mense van heidense herkoms wat intussen die land beset het heftig teenstand gebied.
Nehemia was baie ontsteld. Dis tog sy mense en sy land en stad waaroor dit gaan. Wat kan hy doen? Hy kom toe voor ’n geweldige uitdaging te staan: Sal hy die koning nader en vra om sy mense te gaan bystaan, of sal hy maar in sy gemaksone agterbly? Nehemia kies die moeilike pad. Die koning is hom goedgesind en laat hom toe om Jerusalem toe te gaan. En daar moes Nehemia homself as ’n betroubare leier bewys. Wat hy toe ook doen. Hy neem leiding deur die mense te organiseer en aan te moedig. Hulle herbou die stad se muur te midde van felle teenkanting.
Nehemia was bereid om sy gemaksone te verlaat en daadwerklik te gaan hulp verleen. Bly ons nie maar meesal met goeie bedoelings en selfs trane van meegevoel in ons gemaksone agter nie?
Nehemia was bereid om sy gemaksone te verlaat … en jy?