Читать книгу Wanneer God jou vashou - Johan Smit - Страница 21

17 Januarie

Оглавление

’n Seun wat reg kies

Toe het die koning op sy plek gaan staan en ’n verbond met die Here gesluit en beloof om die Here te volg en sy gebooie, verordeninge en voorskrifte met sy hele hart en siel te gehoorsaam en om die bepalings van die verbond soos dit in hierdie boek vasgelê is, na te kom. Die hele volk het die verbond aanvaar. 2 Konings 23:3

~

Josia was agt jaar oud toe hy koning geword het. Sy pa, Amon, was ’n slegte koning wat hom glad nie aan die Here se voorskrifte gesteur het nie. Josia het dus uit huis uit nie ’n goeie voorbeeld gekry nie. En tog het iets in die jongman se lewe gebeur wat op ’n godsdienstige reformasie uitgeloop het. Hy was agt jaar aan bewind toe hy die Here begin dien het. In sy agtiende regeringsjaar loods hy ’n projek om die tempel te herstel, wat maar net nog ’n bewys is van die godsdienstige verval in Juda. En dit is toe dat die wet van die Here opnuut ontdek is. ’n Vergete boek. ’n Bykans vergete God. Josia gaan toe dadelik oor tot aksie. Hy betoon berou oor die sondes van sy voorvaders en roep die volk op om die Here te dien. Dit is nie maklik om diepgewortelde afgodspraktyke sommer eensklaps uit te roei nie, maar Josia is vasberade. Hy sluit namens die volk ’n nuwe verbond met die Here. Hierdie jongman het ’n keuse vir die Here gemaak in ’n tyd toe die volk in afgodspraktyke verstrengel geraak het. Die leiding wat hy geneem het, was so sterk en oortuigend dat daar van ’n volksbekering gepraat kan word. Wat het uiteindelik die groot verskil gemaak? ’n Leier wat vir die Here gekies het. En die herontdekking van die Woord van God.

Leiers wat die Here ken, kan ’n land van ondergang red.

Wanneer God jou vashou

Подняться наверх