Читать книгу Wanneer God jou vashou - Johan Smit - Страница 8

4 Januarie

Оглавление

Kom ons bou ’n toring …

Toe sê hulle: “Kom ons bou vir ons ’n stad met ’n toring waarvan die punt tot in die hemel reik en ons maak so vir ons ’n naam. Dan sal ons nie oor die hele aarde versprei nie.” Genesis 11:4

~

Die slang het daarmee begin: om soos God te probeer wees. En deur al die eeue heen het dit vir die mens wat na God se beeld geskape is ’n geweldige versoeking gebly. Soos dit lank gelede by die toring van Babel aan die lig gekom het.

Op die oog af was dit ’n prysenswaardige projek. Ek meen dat dit vandag die volle steun en seën van die Verenigde Nasies sou ontvang. Samewerking. Ondersteuning. Globalisering. Ons staan saam om iets tot stand te bring wat ons uit die aardse moeras van armoede en ellende sal lig en ons hemelwaarts sal stuur.

Mense soek na die hemel. Hulle soek na ’n toestand van geluk. Om naby God te wees. Om soos God te wees. Die fout is nie om te strewe na eenheid nie. Die fout is om onder eie bestuur een te wees. Om een te wees ter wille van die mens. Aan die hoof van die eenheid moet ’n mens wees, nie God nie.

En dit was hoekom God ’n streep deur die eenheid getrek het. Die aarde en sy volheid behoort aan die Here, nie aan voortreflike en intelligente mense nie.

Wat was die uitdaging vir mense in die Sinarvlakte? Om een te wees ter wille van God of onafhanklik van God. Wanneer die doel van eenheid op die bevrediging en vooruitgang van mense gemik is, raak God bysaak. Dis dan wat die mens in die bek geruk moet word. En dis dan wanneer mense nie meer dieselfde taal praat nie.

Wanneer die doel van eenheid op die bevrediging en vooruitgang van mense gemik is, raak God bysaak.

Wanneer God jou vashou

Подняться наверх