Читать книгу Wanneer God jou vashou - Johan Smit - Страница 13

9 Januarie

Оглавление

Wanneer God Hom laat ompraat

Maar Moses het by die Here sy God gepleit en gesê: “Here, waarom is U toornig op u volk vir wie U deur u groot mag en met kragtige dade uit Egipte bevry het? … “Laat u toorn bedaar en wees u volk genadig. Moet tog nie dié ramp oor hulle laat kom nie.” … Toe het die Here daarvan afgesien om die ramp waarvan Hy gepraat het, oor sy volk te bring. Eksodus 32:11–12, 14

~

Moses het voor ’n hele reeks uitdagings te staan gekom, elkeen ’n span­ningsdrama op sy eie. Ons ken nou reeds al die stories met die gelukkige eindes. Maar probeer jouself net ’n oomblik lank in die man se skoene indink toe hy vir die eerste keer oor elke krisissituasie ’n be­sluit moes neem. Dit moes angswekkende oomblikke gewees het! Luister net weer hoe sake verloop het …

Moses moes by ’n brandende bos hoor dat God vra dat hý, die hakkelaar en voortvlugtige moordenaar, sy volk uit Egiptiese slawerny moet bevry. Wat gaan hy doen? Toe hy maande later voor ’n watermassa te staan kom met die hele volk agter hom en die Egiptenare volstoom op hulle spore – wat nou gemaak? Toe die water maande later in die woestyn opraak en God sê hy moet maar net met sy kierie op ’n klipharde rots slaan en daar sal water uitkom … wat gaan hy doen? En die ergste van alles: toe die volk in sy afwesigheid ’n goue kalf maak en só vir hulle hul god verbeeld en God besluit om die volk te verwerp … hoe gaan hy dit hanteer?

Wat doen Moses? Hy praat met God en hy vertrou sy God. Hy neem God op sy woord en sien elke uitdaging as ’n geleentheid waardeur God verheerlik moet word.

Sien jou uitdagings as geleenthede om God te verheerlik.

Wanneer God jou vashou

Подняться наверх