Читать книгу Wanneer God jou vashou - Johan Smit - Страница 17
13 Januarie
ОглавлениеDie verkeerde offer
Maar Samuel antwoord: “Is brandoffers en ander diereoffers net so aanneemlik vir die Here as gehoorsaamheid aan sy bevel? Nee, gehoorsaamheid is beter as offerande, om te luister is beter as die vet van ramme. Weerspannigheid is net so erg as die sonde van waarsêery; eiesinnigheid net so erg as die bedrog van afgodery.” 1 Samuel 15:22–23a
~
Partykeer raak ’n uitdaging net té groot vir ’n mens om te hanteer. Of liewer: soms raak die mens net te groot vir die uitdagings. Soos wat dit die geval was met koning Saul. Eintlik was dit nie die uitdagings wat te groot geraak het nie, maar die oorwinnings. Alles het net te vinnig gebeur. Die jongman wat sy pa se verlore donkies gaan soek, kom terug by die huis as ’n gesalfde koning! Israel se eerste koning. En hy doen goed. Die mense hou van hom. Hy wen sy eerste belangrike veldslae. Hy word ondersteun deur Samuel, die man van God. God is aan sy kant.
Maar dis net toe dat dinge begin skeefloop. Saul se kop raak te groot. Hy weet nie hoe om sukses te hanteer nie. Wat die Here sê is nie meer heeltemal so belangrik nie. Hy doen sy eie ding. Hy is immers die koning. Toe die Here sê die vyand moet met die ban getref word, hou Saul van die beste vee uit. ’n Mens kan darem nie sulke goeie goed laat verlore gaan nie. Toe Samuel hom voor stok kry, vertel hy ’n leuen, sê dat hy dit eintlik as offerdiere uitgehou het. En so beland Saul in die een na die ander petalje wat sy verhouding met die Here in die wiele ry. Totdat die Here hom as koning verwerp. Want die Here vra gehoorsaamheid, of jy nou ’n gewone voetsoldaat of ’n koning is.
Die Here vra gehoorsaamheid, wie jy ook al is.