Читать книгу Wanneer God jou vashou - Johan Smit - Страница 12

8 Januarie

Оглавление

God se reddingsplan

Hy het die oudste Manasse genoem, “want,” het hy gesê, “God het my alles laat vergeet: al my swaarkry en alles wat my familie my aangedoen het.” Josef het sy ander seun Efraim genoem, “want,” het hy gesê, “God het my vrugbaar gemaak in die land waar ek verneder is.” Genesis 41:51–52

Maar julle moet nou nie sleg voel of bang wees omdat julle my verkoop het nie, want God het my voor julle uit gestuur om lewens te red. Genesis 45:5

~

Josef moes besluit hoe om teenspoed te hanteer. En van teenspoed kon hy ’n paar grieselrige stories vertel! Ons leer hom aanvanklik ken as ’n effe voorbarige witbroodjie wat vir homself sy broers se argwaan op die hals haal. Eers toe die broers se moordpoging skeefloop en Josef as slaaf verkoop word, leer ken ons die man se karakter. En karakter het hy vir seker gehad.

Die teenspoed wat hy moes verwerk kan kortliks opgesom word: sy broers gooi hom in ’n diep put met die doel om hom later van kant te maak; hy word egter aan handelaars verkoop wat hom in Egipte as slaaf verkoop; hy beland in die tronk op grond van ’n vrou se vals getuienis; ’n skinker vergeet van sy belofte om vir Josef ’n goeie woord te doen.

En hoe hanteer Josef sy ellende? Hy bly positief! Eers onderskei hy homself as ’n uitstekende werker in Potifar se huis. Dan word hy ’n raakvatter in die tronk! Hy laat net nie toe dat slegte omstandighede hom onderkry nie. Hoe kry hy dit reg? Hy erken die hand van die Here in sy omstandighede en aanvaar dat die Here slegte omstandighede kan gebruik om lewens te red. Jo­sef vergeet van die slegte en vestig sy aandag op die goeie, die hoopvolle, die “Efraim-ervarings” van sy lewe.

God maak van drenkelinge lewensredders.

Wanneer God jou vashou

Подняться наверх