Читать книгу Wanneer God jou vashou - Johan Smit - Страница 5

1 Januarie

Оглавление

Wees vrugbaar, woon, werk en heers

God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep. Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip.” Genesis 1:27–28

~

God het die mens as sy verteenwoordiger geskep, na sy beeld geskep. Sommer met die intrapslag word die mens voor ’n uitdaging gestel, naamlik om aan God se bedoeling te beantwoord. Want ja, dit wat God se bedoeling met sy skepsel was (en nog steeds is) is ongelukkig nie altyd presies hoe dit in ons elkedagse lewe uitwerk nie.

Die rede waarom God se bedoeling en die mens se lewe so dikwels in konflik is, is gewoon omdat die mens oor die vermoë beskik om te kies. Hy kan self besluit in watter mate hy aan God se bedoeling gaan beantwoord al dan nie. En juis daarom noem ek dit ’n uitdaging. Jy staan voor ’n keuse. Jy kan besluit of jy die mens gaan wees wat God jou bedoel het om te wees.

God het die mens toegerus met die middele en die vermoëns om sy doel te bereik. Eerstens moes hulle vermeerder om die aarde te vul met mense wat tot eer van God sou lewe. Tweedens moes hulle van die aarde ’n tuiste maak en dit bewerk sodat dit vrug kan oplewer. En derdens word hulle in beheer van God se skepping geplaas, hulle word as’t ware God se onderkonings op aarde. Hoe beantwoord ek en jy vandag aan hierdie opdrag?

Jy staan voor ’n keuse. Jy kan besluit of jy die mens gaan wees wat God jou bedoel het om te wees.

Wanneer God jou vashou

Подняться наверх