Читать книгу Wanneer God jou vashou - Johan Smit - Страница 9
5 Januarie
ОглавлениеMaar Noag …
Die Here het gesê: “Ek sal die mens wat Ek geskep het, wegvee van die aarde af; … want Ek is bedroef daaroor dat Ek hulle gemaak het.” Maar Noag is deur die Here begenadig. … Noag was ’n regverdige man. Onder sy tydgenote was hy onberispelik en hy het naby God geleef. Genesis 6:7–9
~
Ek verstom my oor Noag se onwrikbare, kinderlike geloof. Hy was eenhonderd persent oortuig daarvan dat God self hom beveel het om ’n groot skip op droë grond te bou, ver van enige water. Dié vreemde optrede van Noag was veel meer as ’n “menslike malligheid”, dit was ’n preek, ’n preek in die eindtyd. Want ja, dit was inderdaad vir die mense van Noag se tyd ’n eindtyd. Die wêreld het op die punt gestaan om te vergaan.
Noag was nie ’n willose pion in ’n Goddelike skaakspel nie. Hy kon kies. Hy het voor ’n geweldige uitdaging gestaan. Moet hy maar sake hulle gang laat gaan? Solank hyself tog net in God glo en Hom gehoorsaam. Of moet hy God se eienaardige opdrag uitvoer en sy oordeel verkondig?
Noag was ’n regverdige man wat naby God geleef het. Met dié kort getuigskrif word vertel waar Noag gekies het om standpunt in te neem: aan God se kant. Die gevolg was dat Noag en sy dierbares en ’n groot aantal dierespesies van ondergang gered is. In hierdie man is die aarde geseën en die mensdom van algehele ondergang gered.
Soms verg ’n lewe naby God dat ons afstand van die wêreld al groter word. Dit mag wees dat ons vriende en aansien verloor en selfs as dweepsiek beskou word. Maar, soos Noag se verhaal duidelik maak, ’n lewe naby God beteken uiteindelik die verskil tussen lewe en dood.
Soms verg ’n lewe naby God dat ons afstand van die wêreld al groter word.