Читать книгу Wanneer God jou vashou - Johan Smit - Страница 7
3 Januarie
ОглавлениеHet God ’n agenda?
Toe sê die slang vir die vrou: “Julle sal beslis nie sterf nie, maar God weet dat julle oë sal oopgaan die dag as julle van daardie boom eet en dan sal julle soos God wees deurdat julle alles kan ken.” Genesis 3:4–6
~
Hoe langer ek oor dié teks nadink hoe duideliker raak dit vir my dat ons hier met ’n eietydse probleem worstel. Die slang verteenwoordig in hierdie verhaal die hedendaagse intelligentsia wat meen om met die God van die Bybel te kan swaarde kruis. Is God regtig? vra hulle. En as Hy regtig is, wat is sy agenda? Wil Hy maar net die mens as ’n willose slaaf in gevangenskap hou?
Ek hoor die slang in die gesprekke van mense wat met groot bravade die gesag van die Bybel as woord van God bevraagteken. En ek hoor die bravade, die onbetwisbare sekerheid, die beslistheid wat reeds deur die slang uitgespreek is. God hét ’n agenda! God wil julle kortwiek.
Die slang daag die mens uit om net so effe van God se plan af te wyk. Om mens in eie reg te wees. Toets vir God. Dalk is sy bedoelings met jou tog nie so suiwer nie. Of dit ’n pratende slang is of ’n welsprekende teoloog of ’n vernuftige koerantartikel – die uitdagings kom op ons afgestorm. Wees tog net intelligent genoeg om ’n slag krities oor God te dink …
Geloof beteken om vir God op sy woord te neem. Punt. Twyfel beteken om God se woord in twyfel te trek, om die opsies oop te hou. Iemand het gesê: “Voed jou geloof en jou twyfel sal van honger sterf.”
Die uitdaging? Om vir die slang en al sy spitsvondige metgeselle nee te sê en vir God onvoorwaardelik op sy woord te neem.
Voed jou geloof en jou twyfel sal van honger sterf.