Читать книгу Wanneer God jou vashou - Johan Smit - Страница 6

2 Januarie

Оглавление

Moenie eet nie!

Die Here God het die mens beveel: “Van al die bome in die tuin mag jy eet soos jy wil, maar van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie. Die dag as jy daarvan eet, sterf jy.” Genesis 2:16–17

~

Die uitdaging is om te gehoorsaam wanneer God nee sê. Al verstaan jy nie waarom God nee gesê het nie. Al wil die slimste mense vir jou verduidelik dat dit ’n vergissing is, dat God dit dalk nie heeltemal net so bedoel het nie. Of selfs dat God ’n verskuilde agenda het.

Kom laat ons eerlik wees: ons verstaan nie altyd waarom God nee sê nie. Dit klink net nie altyd logies nie. Ons kan dalk meen om vir God met alle res­pek te vertel dat dit beter sou wees as Hy liewer vir ons ’n ja-antwoord gegee het. Hoe nou gemaak? Ek dink dit word uit talle Bybelverhale duidelik dat God weet wat Hy doen. God se “nee” en God se “ja” is een honderd persent in die kol. En sodra ’n mens so dom is om sy eie kop te volg, is hy onderweg na die dood.

Hierdie eerste keer wat God vir die mens voor die uitdaging stel om te gehoorsaam, verstaan ons nie so goed nie. Al wat ons weet, is dat dit gaan oor óf gehoorsaamheid óf ongehoorsaamheid. Dit gaan nie oor verstaan nie. Dit gaan oor instemming met God se plan vir jou lewe. Ja of nee.

Dink gerus aan dié kere toe jy vir God se plan nee gesê het. Was dit toe uiteindelik tot jou voordeel? Dink in die vervolg elke keer voordat jy ’n besluit neem of dit ’n “ja” vir God is, of dalk ’n halsstarrige “nee”.

Dit gaan nie oor verstaan nie. Dit gaan oor instemming met God se plan vir jou lewe. Ja of nee.

Wanneer God jou vashou

Подняться наверх