Читать книгу Wanneer God jou vashou - Johan Smit - Страница 15
11 Januarie
ОглавлениеDie swaard van die Here en Gideon
Die Here het vir Gideon gesê: “Ek kan Midian nie oorgee in die mag van soveel manne by jou nie. Israel sal teenoor My spog en sê: ‘Ek het myself gered.’” Rigters 7:2
~
Gideon was ’n jongman met waagmoed en durf. Sedert sy ontmoeting met die engel van die Here het daar heelwat opwindende dinge in sy lewe gebeur. Hy het die uitdaging aanvaar om die Israeliete van die Midianitiese oorheersing te bevry. Hy het die afgodealtaar voor sy pa se huis afgebreek en sodoende die sonde van sy volk blootgelê en hom openlik daarvan gedistansieer. Maar nou moet die vyand aangedurf word. En soos ons weet was die Midianiete ’n oormag. Sal die energieke jongman die nodige ervaring en kennis hê om so ’n groot taak aan te pak?
En dis toe hier waar die Here hom voor ’n geweldige toets plaas. Nee, meen die Here, daar is heeltemal te veel manskappe wat saam met Gideon optrek. Te veel? Luister na die Here se motivering: “Israel sal teenoor My spog en sê: ‘Ek het myself gered.’” Israel se verhouding met die Here was in daardie stadium nie so goed nie. Die afbreek van ’n afgodealtaar het nog nie die volk van harte na die Here laat terugkeer nie. Dit moet bo alle twyfel duidelik wees dat die Here sélf vir die oorwinning verantwoordelik gaan wees. Oorwinning gaan so maklik na ’n mens se kop. En in die hart van ’n groot kop is daar selde plek vir die Here.
En Gideon aanvaar die uitdaging. Selfs toe die Here die leer tot drie honderd man beperk! Die Here het toe vir oorwinning gesorg. Niemand kon daaraan twyfel nie. Met die slagspreuk “die swaard van die Here en Gideon” is die Midianiete verslaan.
In die hart van ’n groot kop is daar selde plek vir die Here.