Читать книгу Wanneer God jou vashou - Johan Smit - Страница 22

18 Januarie

Оглавление

Oorwinning met orkesbegeleiding en koorsang

Juis toe, toe die sangers met die lofprysing en gebed begin, het die Here onverwagte aanvalle bewerk op die Ammoniete, die Moabiete en die mense van die Seïrberge wat teen Juda opgetrek het, en hulle het die een neerlaag na die ander gely. … Op die vierde dag het hulle ’n samekoms gehou in die Lofdal. 2 Kronieke 20:22, 26a

~

Koning Josafat kry berig dat ’n oormag soldate uit Edom besig is om teen Juda op te ruk. Hy is bang en gaan soek hulp en raad by die Here. Wat moet hy doen? Hoe kan hy die vyand teenstaan? Hy bely dat hulle militêr gesproke geen kans staan om die vyand af te weer nie. ’n Koning en sy volk was selde so totaal afhanklik van die Here. Hulle het dit geweet en bely: “Ons oë is op U gerig” (2 Kron 20:12).

Toe raak die Gees van die Here vaardig oor ’n profeet. En dié man kom toe met ’n verstommende woord van die Here: Julle moet niks doen nie! Dis nie julle oorlog nie, dis God s’n. Hy sal die vyand verdelg!

Dit is besluitnemingstyd vir koning Josafat. Is dit regtig ’n boodskap wat van God kom? Wat doen Josafat? Hy en die volk kniel voor die Here en betoon eer aan Hom. Hulle glo die profeet se woorde het van die Here gekom.

Toe gaan hulle oorlog toe. Vooraan die orkes en die sangers. En hulle sing: “Loof die Here, aan sy liefde is daar geen einde nie.” Intussen het die Here met die oorlog begin. Hy saai verwarring onder die vyandelike magte sodat dié mekaar begin uitmoor! Israel “wen” die oorlog sonder om ’n vinger te verroer. Behalwe om te sing. En toe noem hulle die plek Lofdal, want daar het hulle die Here geloof.

Sing met ’n loflied jou pad deur die lewe oop!

Wanneer God jou vashou

Подняться наверх