Читать книгу Wanneer God jou vashou - Johan Smit - Страница 28

24 Januarie

Оглавление

Die regte keuse

Maar Rut het geantwoord: “Moet my tog nie dwing om van u af weg te gaan en om om te draai nie, want waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God.” Rut 1:16

~

Rut se storie is in vele opsigte merkwaardig. Sy is uit huis uit ’n heidense meisie. Sy trou met ’n Israeliet wat saam met sy ouers uit ’n droogte geteisterde Betlehem gevlug het. In Moab sterf haar skoonpa en man. Haar skoonmoeder besluit om terug te keer na haar tuisdorp. En Rut besluit om saam te gaan, haar verlede, haar huis en land en mense én godsdiens agter te laat. Rut se storie word die storie van verlossing, van die nuwe ryk van God waar daar plek is vir mense uit alle volke, nasies en tale, en uiteindelik van ’n nuwe hemel en nuwe aarde!

Naomi, Rut se skoonmoeder, keer terug na Betlehem, haar geboortegrond en die plek waar haar oorlede man nog sekere regte agtergelaat het. Rut en Boas raak op mekaar verlief en Boas tree vir Rut as losser op, wat beteken dat hy op ’n wettige manier Naomi se regte terugkoop en aan Rut besorg. Op dié manier word Naomi in ere herstel en Rut word deur haar huwelik met Boas deel van die verbondsvolk.

En dan vir die verrassing, vir die “eerste Kersfees” in Betlehem: ’n kind word vir Rut en Boas gebore. Die vrou uit die heidendom word die moeder van ’n nuwe bloedlyn in Israel, die bloedlyn waaruit die Messias later in Betlehem gebore sou word.

Die uitdaging waarvoor Rut te staan gekom het, was die dag toe sy moes besluit watter roete sy gaan inslaan: terug na Moab of saam met Naomi (en haar God!) na die onbekende Betlehem.

’n Keuse vir die regte God loop toe uit op Kersfees!

Wanneer God jou vashou

Подняться наверх