Читать книгу Wanneer God jou vashou - Johan Smit - Страница 27
23 Januarie
ОглавлениеBeskikbaar vir diens
Maria sê toe: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.” Lukas 1:38a
~
Maria, Jesus se moeder, is ’n vrou in haar eie klas. Wat met haar gebeur het, het met niemand voor of na haar gebeur nie. ’n Mens voel dus huiwerig om lyne vanaf haar na ons eietydse omstandighede deur te trek. Dit is net nie dieselfde nie. Maar Maria was tog ook ’n mens net soos ons. En al het sy ’n buitengewone openbaring ontvang, het sy as ’n gewone mens van vlees en bloed daarop gereageer. En dus kan ons tog by Maria die een en ander leer, veral hoe om te reageer op ’n Goddelike uitdaging.
Toe die engel aan Maria verskyn met die boodskap dat sy swanger gaan raak en dat die kind vir seker nie Josef, haar verloofde, se biologiese kind sal wees nie, het dit haar waarskynlik heeltemal uit die veld geslaan. Wat sou dit tog beteken? Hoe moet sy dié eienaardige boodskap verwerk? Wat uit die verhaal duidelik blyk, is dat sy dit onmiddellik as ’n boodskap van die Here erken het. ’n Mens weet wanneer dit God is wat praat. Soos wat ek en jy ook al by meer as een geleentheid by die lees van die Bybel of onder ’n preek of die lees van ’n boek geweet het God praat nou baie spesiaal met my. En dis dié wete wat vir haar op God se woord laat antwoord.
Ek is tot u beskikking! God se boodskap sou sekerlik nie tot opgewonde vreugde aanleiding gee nie. ’n Ongehude swangerskap, wat gaan Josef sê, en die mense? Maar as dit God se pad is, dan is ek tot sy beskikking. Dis daardie antwoord van Maria wat van haar ’n besondere mens gemaak het.
Here, ek is tot u beskikking!