Читать книгу Wanneer God jou vashou - Johan Smit - Страница 37
1 Februarie
ОглавлениеDie Here is my herder
Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. Psalm 23:1
~
“Die Here is my herder” – sekerlik van die heel bekendste woorde in die Bybel. En dit is goed te verstane. Dit pas volkome by die beeld wat die mens vir hom graag van sy God voorstel. God moet vir ons soos ’n herder wees – ’n versorger en beskermer.
Dit sal goed wees om aan die begin van die maand vir jouself rekenskap te gee van hoe jou “beeld” van God daar uitsien. Hoe dink jy oor God? Hoe wil jy hê moet God Homself aan jou bekendstel? Ek reken tog dat ons redelik vanselfsprekend graag positief oor God wil dink. God moet aan ons kant wees. Hy moet vir ons veiligheid, voorspoed en vrede waarborg. Hy moet vir ons die dinge gee wat ’n mens nie met geld kan koop nie, die dinge wat buite die bereik van jou kredietrekening lê. O ja, ons weet natuurlik ook van die ander beelde waarmee God in die Bybel aan ons voorgestel word. Daar is die minder aangename voorstellings soos byvoorbeeld dié van ’n brullende leeu of van ’n verterende vuur. Ons stuur liewer daar verby. Ons soek die God wat sorg en omgee en beskerm. Soos ’n herder …
Die Here is my herder. Dit is goed om so aan my God te dink. En daar is ook heeltemal niks mee verkeerd om só oor God te dink nie. Verlustig jou gerus in die wonderlike wete dat dit presies is hoe God Homself aan jou wil bekendstel. Maar wees dan ook gereed om te ontdek dat dié beeld ’n bepaalde verantwoordelikheid van jou gaan eis. Meer daaroor later …
Hoe lyk jou voorstelling van jou God? Kan jy Hom as ’n herder voorstel?