Читать книгу Wanneer God jou vashou - Johan Smit - Страница 39
3 Februarie
ОглавлениеEk kom niks kort nie
Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. Psalm 23:1
~
Kom ons dink weer ’n keer na oor die niks wat ’n mens kortkom as die Here jou herder is nie. Gister het ons besluit dat ’n mens heel eerste na die basiese lewensbehoeftes moet kyk. Kos en water en lewensmoontlikhede. Verder as om te mag lewe en te weet dat God daar is, die Herder wat sorg, het ek eintlik niks meer nodig nie.
Maar so eenvoudig is dit ook nie. Daar is dinge wat aan ’n mens se lewe sin gee. Dinge wat die lewe vir jou die moeite werd maak. En as daardie dinge wegval, ervaar jy ’n tekort. Daar is ’n leemte. En jy kan vir seker nie met vrymoedigheid verklaar dat jy niks kortkom nie. Ek dink byvoorbeeld aan ’n dierbare wat wegval, of wanneer jy jou werk verloor, of wanneer daar ’n onherstelbare verhoudingsbreuk opduik. Natuurlik kom jy dan iets (of veral iemand) kort. Wat sê Psalm 23 dan vir jou?
Ons moet daarteen waak om mooiklinkende Bybelverse te idealiseer. Psalm 23 sal nie die pynlike ervarings uit ons lewens wegvee asof dit nooit bestaan het nie. Dit is eerder nodig dat ons sal probeer vasstel wat dit regtig beteken dat niks ons sal kortkom nie.
Ek dink dit beteken dat ’n mens letterlik alles kan verloor wat vir jou belangrik is, maar as jy nog steeds die Here as jou herder het, het jy nog die beste. Dis soos Psalm 63 se digter sê: “U troue liefde is meer werd as die lewe” (v 4). Om vir God te hê, beteken om die lewe te hê. En niks of niemand kan jou van dié lewe beroof nie. Daarom kom jy niks kort nie. Jy het die lewe, van nou af tot in ewigheid.
Weeg die dinge wat jy vandag kortkom op teen die liefde van God. Wat is die uitslag?