Читать книгу Wanneer God jou vashou - Johan Smit - Страница 29
25 Januarie
ОглавлениеWaarna kyk jy?
Maar toe Petrus sien hoe sterk is die wind, het hy bang geword en begin sink en uitgeroep: “Here, red my!” Matteus 14:30
~
Op Jesus se spoor sou daar ander uitdagings op Petrus se pad kom. Soos die dag toe hy op die stormsee moes besluit wat hy gaan doen toe Jesus hom nader wink om op die water na Hom toe te loop.
Stel jou die atmosfeer op die boot voor toe die vreesbevange dissipels hoor dat die “spook” niemand anders as hulle Meester, Jesus, was nie. Verligting! Verbasing? Blydskap? En dan Petrus aan die woord: “As dit regtig U is, beveel my om op die water na U toe te kom.” Uitdagend? Hy moes darem net altyd die eerste woord inkry, in die kalklig bly. Wat sou Jesus antwoord? “Nee, Petrus, dis nie vir jou nie. Ek is op pad na julle toe.” Maar nee, Jesus sê: “Kom!” Besluitnemingstyd. “Het ek nie dalk te gou gepraat nie?” Petrus neem Jesus op sy woord. Dit was wel ’n geloofsdaad. Daarvoor moet Petrus tog ’n punt of twee kry. Hy loop toe op die water. Seker tot verbystering van sy makkers (en homself!). Maar toe sien hy die branders. En hy dink: “Is ek van my trollie af om op die water te probeer loop!” Toe hy begin sink, roep hy om hulp, steek sy hande na Jesus uit … en word gered.
Toe Petrus die uitdaging om op die water te loop aanvaar, was dit ’n geloofsdaad. Met sy oë op Jesus gerig, het dit toe gewerk. Die verskil tussen geloof en twyfel het met jou visie te make – óf Jesus óf omstandighede. Dis goed Petrus het onthou om weer na Jesus uit te reik. Dis hoe ’n mens gered word.
Die verskil tussen geloof en twyfel het met jou visie te make – óf Jesus óf omstandighede.