Читать книгу Wanneer God jou vashou - Johan Smit - Страница 44

8 Februarie

Оглавление

Nuwe krag

Hy gee my nuwe krag. Psalm 23:3a

~

Die sleutelwoord in hierdie teksvers is “krag”. Waarvoor het ’n mens krag nodig? Nee, kom ons begin by die skaap – waarvoor het ’n skaap krag nodig? Ek reken die digter het lewenskrag in gedagte, die krag om op te staan en die pad vorentoe aan te durf.

Lewenskrag. Ek het al so baie kere gehoor dat iemand sê dat hulle nie meer krag het om aan te gaan nie. Hulle is moeg, uitgeput, heeltemal van lewenslus en lewenskrag beroof. Die impak van slegte omstandighede, ’n uitmergelende siekte, ’n stormagtige verhouding of ’n geldelike krisis was net te oorweldigend.

Elia, die profeet wat die duisende Baälpriesters op hulle neuse laat kyk het, bevind homself onder ’n besembos – kragteloos, uitgeput, gereed om dood te gaan. Waarom? Omdat omstandighede anders uitgedraai het as wat hy verwag het.

’n Mens moet daarteen waak om jou eie krag te oorskat. As jy op die kruin van die golf ry, moet jy onthou dat die golf kan breek. Sukses is soos ’n dwelmmiddel, dit laat jou kop draai en soms tred verloor met realiteite. Die oorsaak vir kragteloosheid is soms dinge van buite soos slegte omstandighede. Ander kere weer is jyself die oorsaak. Soms kan dit toegeskryf word aan depressie of ’n gevoel van minderwaardigheid of luiheid.

Stel gerus eers vas waarom jy by geleentheid (miskien vandag?) kragteloos voel. En vertel dit vir jou Herder. Vra Hom om die belofte van krag vir jou waar te maak. En wag op Hom. Soos wat Elia onverwags deur ’n engel op die been gebring is, sal die Herder jou ook ophelp.

God het nog nooit iemand wat sy algehele afhanklikheid van Hom bely het in die steek gelaat nie.

Wanneer God jou vashou

Подняться наверх