Читать книгу Wanneer God jou vashou - Johan Smit - Страница 55
19 Februarie
ОглавлениеWaar is ons Herder?
Soos ’n herder versorg Hy sy kudde: die lammers maak Hy bymekaar in sy arms en Hy dra hulle teen sy bors, Hy sorg vir die lammerooie. Jesaja 40:11
Toe het sy volk gedink aan die ou dae, aan die tyd van Moses, en gevra: Waar is Hy wat sy kudde dwarsdeur die see gebring het saam met hulle herder? Waar is Hy wat sy Heilige Gees onder hulle gegee het? Jesaja 63:11
~
Daar kan ’n tyd aanbreek wat die Herder uit die prentjie verdwyn. Nee, dis nie dat Hy nie meer daar is nie; dit is eerder dat sy skape hulle eie koers ingeslaan het. En dan op ’n dag, wanneer die gevare op hulle toesak, soek hulle die Herder se beskerming, sy versorging, wil hulle hê Hy moet soos van ouds die lammers in sy sterk arms bymekaar maak, teen sy bors vasdruk. Maar tevergeefs. Die Herder is weg. Iewers langs die pad het hulle Hom verloor.
’n Mens kan vir God verloor. Dit gebeur wanneer jy met Hom uit pas raak, nie meer op die spoor van die Herder volg nie. Dit gebeur wanneer jy na ander gode uitreik, jou lewensgeluk by ander bronne gaan soek. ’n Tyd lank kan dit goed gaan. Maar dan op ’n dag het jy ’n Herder nodig. En soos die volk van die Here destyds, begin jy terugdink aan die “ou dae”, die tyd toe jy so na aan die Here geleef het.
Psalm 23 raak niks anders as ’n stukkie vroom nostalgie wanneer ’n mens nie meer bereid is om God se skaap te wees nie; nie meer ter wille van sy Naam aan sy wil gehoorsaam te bly nie.
Psalm 23 raak niks anders as ’n stukkie vroom nostalgie wanneer ’n mens nie meer bereid is om God se skaap te wees nie.