Читать книгу Wanneer God jou vashou - Johan Smit - Страница 51
15 Februarie
ОглавлениеDroëbek teenstanders
U laat my by ’n feesmaal aansit, terwyl my teëstanders moet toekyk … Psalm 23:5a
~
Ons moet onthou dat Psalm 23 ’n psalm van Dawid is. Alhoewel hy ’n uitmuntende digter en liriekskrywer was, was hy in die eerste plek ’n krygsman wat male sonder tal die vyandelike magte moes aandurf. Met spies en swaard in die hand het hy keer op keer sy pad oopgeveg. As koning was hy telkens op die voorpunt van die gevegslinies. Vyande het hy geken. Baie kere was hy benoud, in ’n hoek gedryf. Sy teenstanders het die lewe vir hom moeilik gemaak.
En nou skryf hy ’n lied oor sy God, dié God wat na sy kinders omsien soos ’n herder na sy skape omsien. Dié God wat vir sy kinders ’n fees berei. En waar is die teenstanders? Dawid sê die teenstanders kyk droëbek toe. Hulle deel nie in die fees nie. Maar is dit regtig altyd waar? Gebeur dit nie tog so dikwels dat die teenstanders die oorhand kry nie? En dan wonder God se kinders, sy skaaptroppie, wat dan van hulle Herder geword het. Sommige mens reken dat Psalm 23 niks anders as ’n vrome wensdenkery is nie. Is dit?
Hierdie psalm is ’n pakstuk in ’n veel groter legkaart. Die laaste pakstuk vind ons in Openbaring waar die Herder sy skape op die laaste dag inbring. Die teenstanders sal dan verleë toekyk. En, so sê die Bybel, daar sal ’n fees wees. Dit word die bruilof van die Lam genoem. Want die skape is ook die bruid wat by die feestafel in God se ewige ryk aansit. Eers dan word Psalm 23 ten volle vervul.
Psalm 23 se fees is nog voorlopig. Die groot fees kom nog. Sorg dat jy gereed is vir die bruilof van die Lam.