Читать книгу Wanneer God jou vashou - Johan Smit - Страница 59
23 Februarie
ОглавлениеDie Goeie Herder
Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape. Johannes 10:11
~
Die Herder is in Betlehem gebore. Hy is God se antwoord op ’n wêreld waarin die skape verward ronddwaal. Volg net hierdie Herder en julle sal vrede en rus hê. Volg Hom en Hy sal vir julle by groen weivelde en waters van vrede bring. ’n Mens sou verwag dat ’n volk wat in duisternis geleef het, die koms van die Herder met groot toejuiging sou begroet. Maar nee, dit was toe anders. Benewens ’n engelekoor wat ook maar net deur ’n klompie herders gesien en gehoor is, was daar geen fanfare nie. Jare later, toe Jesus sy bediening begin, het Hy Homself wel as die Goeie Herder aangemeld, maar mense was nie al te opgewonde oor Hom nie. Hy het nogal hoë eise gestel aan sy volgelinge: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg” (Matt 16:24). Hy het mense opgeroep om teen die grein van hulle sondige natuur in ’n tweede myl te loop, ’n ander wang te draai en hulle vyande te seën. En tog was Hy ook die Herder wat genooi het: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee” (Matt 11:28) – dis mos herdertaal!
In Johannes 10 vertel Jesus vir ons wat dit beteken dat Hy die goeie herder is. In hierdie Skrifgedeelte word dit ook duidelik hoe God deur sy Seun Psalm 23 in die lewens van sy kinders wil realiseer. Ons moet net nougeset luister na die woorde van die Herder, en getrou op sy spore volg.
Die Herder sê nou vir jou: “Kom na My toe as jy uitgeput en oorlaai is. Ek sal vir jou rus gee.”