Читать книгу Wanneer God jou vashou - Johan Smit - Страница 60

24 Februarie

Оглавление

Die hek en die Hek

Dít verseker Ek julle: Wie nie deur die hek in die skaapkraal ingaan nie maar van ’n ander kant af inklim, is ’n dief en ’n rower. Maar hy wat deur die hek ingaan, is die skape se herder; vir hom maak die hekwagter oop … Johannes 10:1–3

Ek is die ingang; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word … Johannes 10:9a

~

In hierdie “gelykenis” gebruik Jesus twee beelde wat op Homself betrekking het: Hy is die goeie herder wat na sy skape omsien, maar Hy is ook die hek waardeur die skape toegang kry tot die skaapkraal.

Die kraal word hier gesien as die ruimte van behoud. In Jesus se leefwêreld was dit noodsaaklik dat die skape saans in ’n kraal gejaag word om hulle teen rowers en wilde diere te beskerm. Maar selfs in die kraal is die skape nie altyd veilig nie. Die Herder lei sy skape deur die hek by die kraal in, maar die ro­wers klim oor die muur om te steel en te moor.

Wat wil Jesus hiermee by ons tuisbring? Ek reken dit gaan daaroor dat ons ’n oog en ’n oor vir die Herder moet hê, asook om in ons pasoppens te bly vir allerlei vreemde invloede – selfs as ons meen om veilig in die kraal te wees! Moenie dalk meen dat jy veilig is omdat jy in die regte “kerkkraal” is nie …

Maar Jesus sê dan verder dat Hyself die hek is waardeur die skape toegang tot die kraal kry. Hierdie keer is die kraal vir seker die veilige oord van redding wat vir God se kinders bedoel is. En daardie redding kan ’n mens net op een manier kry, naamlik deur die regte hek, deur Jesus Christus, die Herder wat sy lewe vir sy skape afgelê het.

Daar is net een manier om in die kraal te kom, naamlik deur die Hek, Jesus die Verlosser.

Wanneer God jou vashou

Подняться наверх