Читать книгу Wanneer God jou vashou - Johan Smit - Страница 45

9 Februarie

Оглавление

Die krag van God

Die Here is my herder … Hy gee my nuwe krag. Psalm 23:1, 3a

~

Die Nuwe Testament het ook heelwat te sê oor die krag van God. Wat maar net weer bevestig dat gelowiges oor eeue heen hulle brose kragteloosheid besef het en na God uitgereik het vir krag, nuwe krag, om ’n nuwe dag met al sy uitputtende uitdagings aan te pak.

Maar hoe werk dit? Watter soort krag kry ons van God? Is dit fisieke krag, liggaamskrag, of emosionele krag, ’n soort van sielkundige toerusting? Ek re­ken nie ’n mens moet oor God se manier van doen te tegnies raak nie. God werk op misterieuse maniere. Soms ervaar ’n mens daardie “bomenslike” hervulling met krag wat jy net nie kan verklaar nie. Dit gebeur net. En jy weet dit kom van God. Mense sê dis alles net in jou kop, ’n positiewe gesindheid, die vibes wat net reg is. Maar jy weet dis iets anders. Iemand anders. God.

Paulus sê ons beskik oor dieselfde krag waarmee Christus uit die dood opgewek is. Dié teks verwonder my. Ek kan dit nog nie lekker kop nie. Waar is die krag? Hoe kom dit tot uitdrukking? Natuurlik praat Paulus van ’n geestes­krag. Geesteskrag? Die krag van die Heilige Gees wat in my en jou lewe teenwoordig is. Hy is daar. Stel jou lewe tot sy beskikking. Gee die strome van lewende waters kans om deur jou te vloei.

En só ervaar jy hoe die Herder jou elke nuwe dag met nuwe krag toerus. Dan ontdek jy wat Paulus bedoel as hy sê: “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.” Dan verstaan jy wat gebeur as die drie-enige God in volle beheer van jou lewe is.

“Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom …” (Hand 1:8).

Wanneer God jou vashou

Подняться наверх