Читать книгу Wanneer God jou vashou - Johan Smit - Страница 53

17 Februarie

Оглавление

Goedheid en liefde vir lewenslank

U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly … Psalm 23:6a

~

Ons verhouding met God het implikasies vir tyd en ewigheid. Die Ou Testament laat ’n mens dikwels die indruk kry dat dit hoofsaaklik oor die tydelike lewe gaan. Aan die ander kant is daar by baie godsdienstige groepe weer die neiging om die tydelike lewe te minag en die klem feitlik geheel en al op die ewige lewe te laat val. Psalm 23 vertel tog vir ons dat dit vir God oor tyd én ewigheid gaan. God wil hê ons moet vandag gelukkige mense wees wat aan ons doel beantwoord en terselfdertyd God se goedheid kan geniet. Maar dan mag ons nie vir een oomblik uit die oog verloor dat ons pelgrims onderweg na die ewigheid is nie.

Dit gaan oor nog meer as ’n feestafel. Dit is selfs moontlik om ’n feestafel as ’n spesiale, eenmalige geleentheid te sien. Die digter wil dit egter duidelik stel dat God se oorvloedige liefde nie net vir spesiale geleenthede gereserveer word nie. Sy liefde bly lewenslank by sy kinders. Dus nie net ’n feestafel nie, maar ’n feeslewe!

Goedheid en liefde. Waarom onderskeid maak tussen dié twee woorde? Is God se liefde nie allesinsluitend nie? Die woord “goedheid” dui op die gesindheid waarin God sy liefde bewys. God glimlag vir ons. God se hart klop warm vir ons. God se liefde is nie maar net ’n woordelikse liefdesverklaring nie, maar word in goeie dade bewys. Dit is mos wat die digter nog van die begin af vir ons inprent: Die Herder versorg ons in liefde.

Ervaar opnuut die wonder: God glimlag vir jou omdat Hy jou liefhet.

Wanneer God jou vashou

Подняться наверх