Читать книгу Wanneer God jou vashou - Johan Smit - Страница 50
14 Februarie
ОглавлениеFeestyd!
U laat my by ’n feesmaal aansit … Psalm 23:5
~
Die gordyn sak vir eers oor die herder en sy kudde. En ons weet: selfs wanneer dit donker word, is ons God daar. Hy hou ons in sy veilige hande. Vir tyd en ewigheid.
Wanneer die gordyn oopgaan vir die volgende toneel bevind ons ons in ’n feesvertrek. Alles is so feestelik en vrolik en oordadig. Daar moet tog ’n rede wees vir ’n fees. Ten diepste is daar ’n grondliggende rede vir elke fees, naamlik die lewe. Ons vier fees oor die lewe. God wil graag hê dat ons oor die lewe sal feesvier. Eet en drink en wees vrolik, want jy lewe! Lag en sing, want jy lewe!
Die Here wat Homself aan ons bekend gestel het as ’n sorgsame troue herder, is hierdie keer ’n oordadige gasheer. Hy nooi ons na ’n fees waar die tafels kreun onder die feesgeregte. By ’n feestafel sit ’n mens nie met ’n lang gesig aan nie. Terwyl jou mond water kan jy nie help om te glimlag nie. Daar heers ’n feesstemming. Dít is hoe God sy kinders wil sien: vrolik en bly en versadig.
Ek kry die indruk dat ons as kinders van die Here heeltemal te min feesvier. Ons beoefen ons godsdiens te somber. Ja, natuurlik mag ons nie ons eerbied vir die Here inboet nie. Ons mag nie minder toegewyd wees en uitspattig raak nie. Maar ons moet ons verhouding met die Here veel meer feestelik ervaar. Die Here wil hê dat die lewe vir ons ’n fees moet wees.
Die Here wil hê dat die lewe vir jou ’n fees moet wees. Weg met die kommerplooie! Glimlag!