Читать книгу Wanneer God jou vashou - Johan Smit - Страница 61
25 Februarie
ОглавлениеDie Herder se stem
Die skape luister na die herder se stem. Hy roep sy skape op hulle name en lei hulle uit.
Wanneer hy al sy skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit, en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken. Johannes 10:3–4
~
In Johannes 10 kom die intieme band tussen skaap en herder baie prominent aan die lig. Hier is van ’n verhouding sprake. Soos ons reeds by Psalm 23 gesien het, gaan dit nie oor ’n steriele werksverhouding nie, maar oor intimiteit. Dit gaan oor kommunikasie en kennis van mekaar. En dit is mos presies waaroor dit gaan in die verhouding tussen Christus en sy volgelinge, tussen God en sy kinders.
Die skape luister na die Herder se stem. Hy roep na hulle by name. Wat wil sê: God ken sy kinders een vir een by name. Hy het met elkeen ’n persoonlike saak. In Jesaja 43:1 spel die Here dit só uit: “Ek het jou op jou naam geroep. Jy is Myne.” En so, al pratend met sy skape, lei Hy hulle uit na weiding en water en veiligheid.
Ons Herder loop vooruit. Hy jaag ons nie aan nie. Dis die een ding wat ons God nie doen nie. Hy laat die keuse aan ons oor. Ons hoor sy stem. Nou kan ons besluit of ons sy stem wil gehoorsaam, of ons Hom gaan volg of nie.
Die skape ken sy stem. Hoekom ken hulle sy stem? Vanselfsprekend omdat hulle dikwels na Hom luister, omdat hulle met sy stem en sy woord vertroud geraak het. Omdat hulle uit ervaring sy stem as ’n stem van liefde leer ken het. Die vraag is hoe goed ons ons Herder se stem ken. En die antwoord is opgesluit in die mate wat ons met sy Woord vertroud is.
Ken jy die Woord? Dan ken jy die Herder se stem. Volg sy stem.