Читать книгу Wanneer God jou vashou - Johan Smit - Страница 49

13 Februarie

Оглавление

U is by my

Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig. Psalm 23:4

~

Jou God is hier! Wat beteken dié woorde vir jou? Ja, sal jy dalk skouerop­halend sê, ek weet God is oral … Maar nee, dis nie waaroor dit gaan nie. Dit gaan oor die wete dat jou God nou hier is ter wille van jou! Hy het jou lief en Hy wil vir jou sorg en bewaar. Hy gee om. En Hy is God, die Almagtige. Ja, ek weet dat jy jou haglike omstandighede in jou gedagtes begin opweeg teen die wete dat God by jou is. Waarom dóén God dan niks? wil jy vra. Maar God doen. Hy steek sy hande na jou uit. Hy omvou jou met sy liefde.

Jeremia het ervaar wat dit beteken om in die donker dieptes te verkeer. Sy volk was in ballingskap en moes die pynlike ellende verduur. God se volk. God se volk? Waarom dan die ellende? Luister na Jeremia se vertolking van sy omstandighede: “Die gedagte aan my ellende en my vreemdelingskap is gal en gif vir my; as ek daaroor nadink, draai my gedagtes vas. Maar dit sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut …” (Klaagl 3:19–23).

Enkele jare tevore het Jesaja vir dieselfde moedverlore volk gesê: “Sê vir dié wat moed verloor het: ‘Wees sterk, moenie bang wees nie, julle God is hier, Hy kom om wraak te neem, om julle vyande te straf; God kom julle red!’” (Jes 35:4).

Jou God is by jou! Wat jou omstandighede ook al is – jou God is by jou. Ervaar sy magtige teenwoordigheid. Ervaar sy liefde. Jou God is groter as jou omstandighede.

Jou God is by jou!

Wanneer God jou vashou

Подняться наверх