Читать книгу Wanneer God jou vashou - Johan Smit - Страница 62

26 Februarie

Оглавление

Lewe in oorvloed

’n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed. Johannes 10:10

~

Toe Jesus oor die hek van die kraal gepraat het, het Hy verwys na die diewe en rowers wat nie deur die hek die kraal binnekom nie, maar op ’n ander, onwettige manier, inbreek. Die dief is die Herder se teenstander. Hy verteenwoordig presies alles wat die Herder se bedoeling met sy kudde in die wiele sal ry. Sy doel is selfverryking en die uitwissing van die kudde. Sy metodes is laakbaar en oneties – slag en steel en uitroei. En dit is mos wat Satan se strategie is. Hy dring die kraal binne op sy eie slinkse maniere. En sy doel is om God se kudde uit te roei. Ons hou dalk nie altyd genoegsaam rekening met sy sluwe planne en soms uiters suksesvolle maneuvers nie. Lig loop! Hy word op ’n ander plek ’n brullende leeu genoem. Hy soek om te verslind. Moenie mak raak nie.

Daarenteen het die Herder net een doel voor oë, naamlik om vir sy kudde die lewe in oorvloed te gee. ’n Oorvloedige lewe – ons droom daarvan, ons preek daaroor, maar nogtans kom dit nie tot volle verwesenliking nie. Die meeste gelowiges sal kop onderstebo bely dat hulle dit mis. Die lewe is vir hulle in vele opsigte ’n taamlik gebrekkige oefening. “Die Here is my herder; ek kom niks kort nie” – wel, om eerlik te wees: ons kort ’n lewe van oorvloed in die Here. Ons kan nog nie jubel oor ’n beker wat oorloop nie. Die goeie nuus is dat die Here dit vir jou gereed het. Hy wil jou met sy oorvloedige liefde bederf. Luister jy maar net na sy stem en volg Hom nougeset, dan sal jy in sy oorvloed deel.

Die Here wil jou vandag met sy oorvloedige liefde bederf.

Wanneer God jou vashou

Подняться наверх