Читать книгу Wanneer God jou vashou - Johan Smit - Страница 47
11 Februarie
ОглавлениеTer wille van u Naam
Laat my elke môre u liefde ondervind, want in U stel ek my vertroue. Wys my die pad wat ek moet loop, want my hoop is op U gevestig. … Leer my om u wil te doen, want U is my God! Laat u goeie Gees my op ’n gelyk pad lei. Ter wille van u Naam, Here, laat my lewe. Psalm 143:8, 10–11a
~
Dit is so belangrik dat ons sal besef ons lewensdoel is die eer van God en nie in die eerste plek ons eie belange en die vervulling van ons eie behoeftes nie. Ja, God is vir seker daar vir ons, soos die herder daar is vir sy kudde. Maar ons is in die eerste plek daar vir God wat ons geskep het om Hom te verheerlik.
Die paar verse uit Psalm 143 vat dit so treffend saam. In hierdie gebed pleit die digter vir dié dinge wat die herder vir sy skape wil gee: liefde en trou, beskerming en voorsiening. Maar luister net waar is sy fokuspunt: sy hoop is op God gevestig; die goeie Gees van God moet hom lei; hy soek na God se wil vir sy lewe; hy wil graag lewe ter wille van God se Naam.
Ons God is nie ’n goedige ou Kersvader nie. Hy is nie ’n wensgod nie. Hy is die Skeppergod wat jaloers oor sy skepping en skepsels waak, ter wille van sy Naam. En Hy roep ons op om ter wille van sy Naam te lewe. Sy Gees wil ons lei om sy wil te doen. Ons moet net op Hom gefokus bly, om sy Naam deur ons doen en late te verheerlik.
God roep ons om ter wille van sy Naam te lewe.