Читать книгу Wanneer God jou vashou - Johan Smit - Страница 63

27 Februarie

Оглавление

Die Herder wat sy lewe gee

Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape … Ek is die goeie herder. Ek ken my skape, en my skape ken My, net soos die Vader My ken en Ek die Vader ken; en Ek lê my lewe af vir die skape. Johannes 10:11, 14–15

~

In hierdie paar verse bereik Psalm 23 sy hoogste vervulling. Die digter van die herderpsalm sou nie daarvan kon droom nie. Dat die herder nie net sorg en bewaar en lei nie, maar letterlik sy lewe vir sy skape gee – dít klink darem net té vergesog. En dit is presies wat gebeur het! Wat Jesus hier sê, is na­tuurlik profetiese woorde. Hy het geweet dat dit nog moes plaasvind. Sy dissipels kon in daardie stadium nog niks daarvan verstaan nie. Die konsep is net te groot, skrikwekkend groot.

Ja, dit is geweldig groots. Ons moet oppas dat ons nie te gewoond raak daar­aan nie. Die kruis van Christus moet vir ons telkens opnuut ’n wonder word. Die Herder wat sy lewe gee sodat ons kan lewe. Die Goeie Herder is die Seun van die Vader. Die Vader en Seun ken mekaar, is een met mekaar. En soos daar ’n innige verbondenheid tussen Vader en Seun is, is daar ook ’n hartlike verbondenheid tussen Christus en sy kerk. Soos reeds gesê: dit gaan oor ’n verhouding, ’n liefdesverhouding, ’n onlosmaaklike verbondenheid. Dit gaan oor ’n verbond wat met die bloed van die Herder verseël is. “… dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie vergiet word tot vergewing van sonde” (Matt 26:28).

Ons buig in aanbidding by ’n nagmaaltafel in die skadu van die kruis waar die Herder sy lewe aflê vir sy skape.

Ons mag nooit gewoond raak aan die grootsheid van die kruisgebeure nie.

Wanneer God jou vashou

Подняться наверх