Читать книгу Wanneer God jou vashou - Johan Smit - Страница 57

21 Februarie

Оглавление

Moedswillige skape

Red u volk en seën dié wat aan U behoort; wees vir hulle ’n herder en sorg altyd vir hulle. Psalm 28:9

Luister tog, Herder van Israel, U wat die nageslag van Josef soos ’n kudde lei; U wat oor die gerubs troon, verskyn tog aan ons! Psalm 80:2

~

Psalm 23 kan goedskiks as ’n geloofsbelydenis gesien word. Só is my God en dít is wat ek van Hom glo. Die vraag is nou hoe die belydenis in die hitte van die lewenstryd geloofwaardig gaan bly. Sal God Homself regtig só in die lewens van sy kinders openbaar?

In Psalm 28 praat die digter vanuit die hitte van die stryd. Hy bid dat die Here, sy Herder, tog asseblief vir sy volk ’n herder moet wees en hulle moet red. Hy begin sy gebed met hierdie veelseggende woorde: “Ek roep na U, Here, my Rots, moet tog nie doof wees vir my nie. As U bly swyg, sal ek wees soos ’n sterwende” (v 1). Hierdie man (en sy volk) het die vallei van donkerte betree. Wat gaan God nou doen? Dat die Here wel tot sy volk se redding gekom het, is gewis: “Aan die Here kom die lof toe, want Hy het my smeekstem gehoor. … Hy het my gehelp. Daarom is ek bly en wil ek Hom loof met my lied” (v 6–7b).

In Psalm 80 doen die digter weer ’n keer ’n beroep op sy Herder om aan sy volk te verskyn. Dinge het intussen sleg skeefgeloop vir Israel. Psalm 80 vertel die hartseerstorie van ’n volk wat van die Herder weggedwaal het. En die digter vra nou dat die Herder net nie sy rug op sy kudde sal draai nie. Die psalm sluit af met ’n belofte van trou. “Hou ons aan die lewe, dan sal ons u Naam aanroep!” (v 19).

Die hemelse Herder het so baie moedswillige skape in sy kraal.

Wanneer God jou vashou

Подняться наверх