Читать книгу Wanneer God jou vashou - Johan Smit - Страница 48
12 Februarie
ОглавлениеWanneer dit donker word om my
Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie … Psalm 23:4a
~
Donker dieptes. Dis wat ’n mens daardie lewenservarings noem wat jou laat wanhoop, die lewe uit jou pers, vreesaanjaend en lewensbedreigend, hartseer en pyn en verlies en eensaamheid. Die gevoel dat alles tog maar tevergeefs is. Donker dieptes van emosionele uitputting en fisieke afgematheid.
Ek reken dis hoe Jeremia gevoel het toe hy met sy Klaagliedere begin het; trouens, ek meen die Klaagliedere is nie met een sitting geskryf nie; dis jarelange ervarings wat met trane in ’n volk se tradisie ingebrand is. Waarom, Here? Waarom kry ons die indruk dat U u rug op ons gedraai het? Vir hoe lank nog, Here?
Die psalmdigter praat oor ’n herder wat sy kudde begelei. Hy bring hulle by die heerlike waters van vrede en rus. Hy sorg vir hulle lewensonderhoud. Maar dan kom hulle by die donker dieptes. Die swaarkry en pyn en gevare word die kudde nie gespaar nie. Kindersterftes, plaasmoorde, verkragtings, werkloosheid, gewapende roof en noem maar op, dis alles donker dieptes waaraan God se kinders, sy kudde, blootgestel word. En saam met Jeremia vra ons: Waarom, Here, hoe lank nog, het U ons vergeet?
Ek sal nie bang wees nie. Makliker gesê as gedoen! ’n Mens is geneig om die onbekende, dit waaroor jy nie beheer het nie, te vrees. Maar die digter sê hy sal nie bang wees nie, want … sy Herder is daar. Dink gerus daaroor na. Maak die wete dat jou Herder daar is, ook in jou lewe so ’n groot verskil?
Dink gerus daaroor na. Maak die wete dat jou Herder daar is, ook in jou lewe so ’n groot verskil?