Читать книгу Wanneer God jou vashou - Johan Smit - Страница 46
10 Februarie
ОглавлениеDie eer van sy Naam
Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam. Psalm 23:3
~
Waaroor gaan dit regtig in die lewe van ’n gelowige? Aan die begin van Psalm 23 val die klem op die goeie Herder wat versorg en beskerm, wat rus en vrede gee. En dit is natuurlik presies wat ons, sy skape, so graag wil hê. Dit is hoe ons graag aan ons God dink. Dit gaan immers alles oor ons – ons gerief en veiligheid en geluk. Vandag hoor ons dat ’n keuse vir die regte pad nie in die eerste plek oor óns gaan nie, maar oor God.
Om die regte pad te volg, is ’n keuse vir God se plan vir ons lewe. Dit is ’n keuse om God se doel vir ons lewe te verwesenlik. En gevolglik is dit ’n keuse ter wille van sy Naam. God se Naam kom op die spel in die keuses wat ons uitoefen – nie as willose skape nie, maar as mense in wie se lewens die beeld van God na vore moet kom. God se Naam is ten nouste verweef met ons name. Want ons is kinders van God. Hy is nie net ons Herder nie, maar ons Vader. En mense sien in ons lewens, in ons manier van lewe, of ons al meer soos ons Vader optree, of ons in woord en daad al meer na ons Vader aard, of ons Vader se Naam in ons lewens geëer word.
Volg die Herder. Hy ken die regte pad. Doen soos wat Johannes vir ons in 1 Johannes 2 voorsê: Leef soos wat Jesus geleef het. Hy is die Seun van die Vader wat volkome volgens die wil van die Vader geleef het. Loop saam met Jesus. En jy loop op die spoor van die Herder.
Om die regte pad te volg, is ’n keuse vir God se plan vir my lewe.