Читать книгу Wanneer God jou vashou - Johan Smit - Страница 54
18 Februarie
ОглавлениеOm tuis te wees
U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly en ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae. Psalm 23:6
~
Wanneer die digter van die huis van die Here praat, bedoel hy die tabernakel en later van tyd die tempel wat in die Ou Testament die baie spesiale betekenis gehad het as die woonplek van God. Daar was goeie redes waarom die gelowiges so ’n besondere waarde aan die tempel geheg het. Die verbondsark, die sigbare teken van God se teenwoordigheid, was daar; die priesters het daar as middelaars tussen God en sy volk opgetree; dit was die plek waar gelowiges hulle offers aan God gebring het en waar die wet van die Here aan hulle voorgehou is. Inderdaad ’n besondere plek. Die tempel word selfs “die voetbank van God se voete” genoem.
Maar is dit presies wat die digter bedoel wanneer hy sê dat hy lewenslank in “die huis van die Here” sal bly? Hy kon dit tog nie letterlik bedoel het nie. Nee, sekerlik nie. Dit gaan oor die teenwoordigheid van die Here. Om tuis te wees in God se teenwoordigheid wat by die tempel of tabernakel maar net op ’n sigbare manier uitdrukking gevind het. Ek is tuis wanneer ek in die huis van my pa is. Sy huis bied vir my veiligheid en versorging. In God se beskermende en liefdevolle teenwoordigheid vind sy kinders ’n tuiste.
Kom ons vertolk die teks net so effe anders: God sal my lewenslank met sy liefde bederf; en ek sal lewenslank in God se teenwoordigheid bly. Natuurlik wil jy in die huis van die vader bly as dit so feestelik daaraan toegaan. Natuurlik wil jy in God se teenwoordigheid bly as Hy die lewe vir jou ’n fees wil maak.
God bied vandag vir jou ’n feestelike tuiste aan.