Читать книгу Wanneer God jou vashou - Johan Smit - Страница 18
14 Januarie
ОглавлениеIn die Naam van die Here!
Maar Dawid sê vir die Filistyn: “Jy kom na my toe met ’n dolk en ’n spies en ’n swaard, maar ék kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige, die God van die linies van Israel, wat jy verkleineer het.” 1 Samuel 17:45
~
Dawid se ontmoeting met die reus Goliat bly maar ’n klassieke weergawe van hoe ’n mens ’n grootse uitdaging tegemoet moet gaan. Die storie vertel alles: Die jong seun beland as ’n kosaandraer op die slagveld. Waarskynlik baie opgewonde. Sy broers is deel van die volksleër. Maar in die Israeliete se kamp loop die spanning hoog. Die moraal is laag. Hulle vrees die ergste. Toe hoor die jong Dawid die dawerende lawaai vanaf die vyandelike linies. ’n Reus van ’n man is besig om die Israeliete te tart en uit te daag.
Dawid maak nie somme nie. Hy bereken nie getalle en wapentuig en kundigheid nie. Hy is net uiters verontwaardig dat iemand dit durf waag om die Naam van sy God te belaster. Die uitdaging is nou om die groot meneer aan te durf. Maar wie is hy? ’n Jong seun met ’n slingervel? Die soldate neem hom na koning Saul. Die koning moet maar die mannetjie uitsorteer. Hy soek sy dood. Koning Saul bewonder sy moed en bied vir hom ’n harnas en wapens aan. Maar Dawid besluit om in die krag van die Here met ’n slingervel en klippies die stryd aan te pak.
Die res van die verhaal is oorbekend. Dawid verslaan vir Goliat. Die vyand slaan op die vlug. En die resep vir hantering van ’n uitdaging? Om dit in die Naam van die Here en tot eer van die Here aan te pak.
Pak jou uitdagings in die Naam van die Here aan, ter wille van die Here.