Читать книгу Wanneer God jou vashou - Johan Smit - Страница 14
10 Januarie
ОглавлениеEk en my familie sal die Here dien
Of, as julle dit nie goedvind om die Here te dien nie, kies dan vandag wie julle wil dien: die gode wat julle voorvaders gedien het anderkant die Eufraat, of die gode van die Amoriete in wie se land julle woon. Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien. Josua 24:15
~
Tydens die uittog was Josua die stille medewerker, heeltyd gewillig om in Moses se skaduwee te staan. Hy was een van die verkenners wat met geesdrif bereid was om die gevare van die beloofde land te trotseer. En toe val Moses se kleed op hom. Eintlik was Josua eerder ’n krygsman as ’n politikus. Maar hy was nederig en volkome afhanklik van die Here.
Tydens die intog het hy homself as ’n uitmuntende leier bewys. Hy het deurentyd die Here se bevele gehoorsaam. Die intog was ’n reusesukses. Maar ongelukkig is sukses nie altyd die beste medisyne nie. Die mense het van die Here en sy verbond begin vergeet. Die heidene se afgode en afgodspraktyke was darem net te aanloklik en interessant. Dit was maar oor al die eeue so: as dit met mense goed gaan, het hulle die Here eintlik nie so broodnodig nie.
Toe moet Josua sy afskeidspreek lewer. Hy het ’n beleidsverklaring gedoen. Dit het so gebeur: Die Israeliete het in die afgode van die heidenvolkere geïnteresseerd geraak. Soveel so dat hulle van die Here afvallig geraak het. Wie sê nou dat die Here van Moses en Josua regtig so ’n wonderlike God is?
Toe het Josua standpunt ingeneem. Sonder skroom, onverskrokke. “Ek en my huis sal die Here dien.” Ek hoor nog vandag Josua se stem refrein deur die wêreld van ons tyd. Mense verwerp oraloor die God van die Bybel. Waar staan jy en jou huis?
Aan wie se kant is jy en jou gesin?