Читать книгу Die Skyn van tuiskoms - Lina Spies - Страница 12
Finis
ОглавлениеNou maak ek self nie meer so baie saak nie
want jy’t Bobbejaan na my gestuur met ’n briefie in sy bek
dit was geskryf op varkensblaar
dit was ’n bietjie dof
dit was om my en jou te nooi
na die Apies se bruilof
Jy het al die liedjies van my kindertyd weer in my laat sing
en in my hart die Jakkalse elke dag laat trou
Maar wat sal jy van my kan saamneem?
Miskien wanneer die lewe met jou kotiljons
en lekker wals op die Apies se bruilof
sal jy onthou dat jy vir my Aprilmaand was
– die wolke altyd bietjie voor die son –
en ek ten spyte van die reën kon lag
En jy sal lag