Читать книгу Die Skyn van tuiskoms - Lina Spies - Страница 7
Bogrympie vir Cárolie
ОглавлениеJou ma het soet vokale vir jou naam bedink
maar dit belet my nie
om verspotte versies vir jou op te sê nie:
Karielie Karools
Die kat speel viool
Die koei spring dwarsoor die maan!
Karielie, Karoolsie, my Cárolie-kind,
jy hoort sowaar op hierdie aarde tuis:
Jy is sagter as die wolk se pels,
jy het paddastoelhandjies
en skoenlappervoetjies
en jou stemmetjie as jy kos vra
is koppig soos ’n kappertjie se stingel
wat hom draai net soos hy wil
en geen hand of spykerhouer toelaat
om hom te skik en te bedwing nie.
Jy het ons uit Verreweide terug kom haal
waar ons vergeet het van sonbesies en katjiepierings
en dit onder die denne altyd donker bly.
Binne-in my het die seer geword
’n knapsak, ’n doedelsak, ’n molsak,
’n slaapsak, ’n woonsak vir Karielie, Karoolsie, Cárolie-kangaroe
sodat sy weer my oë kan laat sien
dat ons deur Soeteweide stap
en ek weer met ’n voordagstem vir haar kan sing:
Karielie Karools
Die kat speel viool
Die koei spring dwarsoor die maan!