Читать книгу Die Skyn van tuiskoms - Lina Spies - Страница 18
Amsterdam
ОглавлениеAmsterdam, jy hoef nie na my te luister nie:
as die meeue ophou kras oor jou Amstel en jou torings,
dan blaf die gekettingde honde nog voor jou winkelvensters.
Buitendien het Huygens in die Goue Eeu al
die bewonderende vreemdeling die swye aanbeveel:
“Die schricklixt van mij swijgt heeft aller best geseyt.”
Ek sal saggies met jou praat,
versigtige, beskeie woorde, gedagtig aan Huygens
vir wie jy tweemaal-Venesië was, heel Water en heel Straat,
en aan Achterberg wat sy geliefde teruggeroep het
na jou, stad buitekant die dood,
dat sy verruk die fluitspeler kon volg
oor die Leidseplein, verby die Munt
tot in die Kalverstraat.
Vanmiddag weet ek blom die krokusse
op Museumplein geel en pers
en sit die raserige meeue daartussen
soos swygsame wit standbeeldjies.
Die gewelhuise skommel in die gragte
en die eende swem by die vensters in
tot in Het Straatje van Vermeer.
Ook ek gaan die straat vat,
verby die bloemenman op die hoek
wat my dalk weer ’n bos aanbied vir niks
net omdat my vrolike bene uitdagend
Van Gogh se Rose boomgaard verheerlik:
Ek bêre die onopvallende deursigtige nylon
totdat ek terug is in Suid-Afrika,
want sien, voorlopig is ek klaar met stemmige dinge.
Amsterdam, geliefde, ek kom vandag na jou toe
met ’n paar pienk kouse aan.