Читать книгу Die Skyn van tuiskoms - Lina Spies - Страница 14
Hemel
ОглавлениеMy kat is geel soos ’n papawer
met oë nes botterblommetjies
en ’n voetstap ligter
as ’n sonstreep oor die water
Die mossies in my tuin
het koppies rond soos okkerneute
en ligte lyfies soos gepunte blare
Maar op ’n dag
skerp naels tussen fyn veertjies
en meteens die angs
gestem op die kwint van ’n klein stemmetjie
Dis dan dat ek my voete botter smeer
om langer hier te bly
en nie by voorbaat weg te loop na daardie land
waar die wolf by die lam gaan wei
en die mossie haar eiertjies
tussen die pootjies van die kat sal lê.