Читать книгу Die Skyn van tuiskoms - Lina Spies - Страница 17
Franz Liszt
ОглавлениеIn hierdie sagte vloeibaarheid van lig
net in ’n beperkte kring rondom my pen
is daardie luister buite my gesig
en kan my opkyk net die donkerte verken:
Lig en donker êrens finaal geskei
soos die balk en tussenruimte van my manuskrip
en ’n klavier se note wit en swart
waarvan nie een ooit deur my virtuose vingers glip.
Maar magteloos kies ek albei saam:
die priester sal hom met die losklong weer misgis
en wie kan leef in suiwerheid as twee,
al glo ’n dwase vrou in God en in Franz Liszt?
Sal ek soos daardie blinde langs die pad
eenvoudig vra: “O Heer, dat ek kan sien!”,
my klein swart nootjies toevertrou aan wit papier,
die een wat U verkies geduldig dien?
Net tot ek daardie luister weer herleef:
hoe mense juig wanneer my hande dans en gloei
en wit en swart tot een blink helderte saamvloei
dat selfs voor U ek geen onhandigheid sou vrees!
Vergewe, God! Reeds in my kinderstem was hy:
“Ave Maria, gratia plena! Here, maak my hartjie rein”;
nou is ek die demoon wat bandeloos deel
in die bedryf van ’n klavier bespeel!
’n Dol konsert die prys van toegewyde vingers
elke keer. ’n Impromptu net tydelik verligting,
narkose-rapsodie van Sigeunerdansers by die put se wal
totdat sonsondergang die spieëlrand van die water ban.
“Wit hiasinte vir een jen, vir die ander brood” –
lyfnoodsaak … Japannese spreekwoord …
Ek het by die klavier nutteloos vernag
soos mirre tussen die borste van ’n vrou.
Klavier sonder konsert, vrou sonder hande en gesig –
onaantasbaar, helder, lig … maar … die konsert, dis ek!
Verneder, Heer, die wierookheuwel en die mirreberg
dat ek die priesterskap styf vas kan gryp.
Laat ek monnik-gedwee wat U vereis
aanvaar: die baie stilte, bietjie eie klank
totdat ’n nuwe Dante oor u aarde sien,
een simfonie die lig van Genesis verdien.
Laat ek in die klein kring geduldig bly totdat
in my die Sigeuner en die Franciskaan,
my God, eendag gelukkig saambestaan.