Читать книгу Die Skyn van tuiskoms - Lina Spies - Страница 20

Voorjaarsboodskap

Оглавление

Jy het jou oë se babablou verruil vir bruin;

“geelbruin”, skryf jou ma, “en dit word nog aldag donkerder”.

Ek loop steeds vrolik oor die asfalt van Amsterdam,

die lente vergoed vir die lang winter,

haal die tyd vertikaal in, verdubbel homself:

die gragte is pienk van al die bloeiselbome

en ek kyk en kyk totdat die merels

my weer kop bo water sing.

Maar dan meteens trek ’n vliegtuig

’n streep bo die vergroende bome,

dwarsdeur die helder vokalisme en my lighoofdigheid:

ek kom weer huis toe, streeptrekkervliegtuig,

want elkeen wat Cárolie se oë sien bruin word,

beleef ’n mooier jaargety as ek.

Die Skyn van tuiskoms

Подняться наверх