Читать книгу Die Skyn van tuiskoms - Lina Spies - Страница 6
Op die dood van Riëtte
ОглавлениеIn liefde opgedra aan Marius en Angeline
Die klein wit kaartjie in my hand
is swygsaam met jou silwer naam,
geen Bybelteks vir troos, geen in memoriam,
geen lanferstrepie langs die kant.
So is dit reg: vir jou was donker net
die leeu wat swart en vriendelik saans
kom snuif het aan die agterdeur
terwyl die kinders van die buurt se oë rek.
Jy was hartvol, sag en klipdaswarm,
maar weerloos teen die pad, die teer, die grond
dat tussen al die draad en harde staal
net jou handjies met gewone groefies oor kon bly.
Of was die dood genadiglik die skans
wat jou vroegtydig reeds moes veilig hou teen
elke voet wat na ’n hond sou skop,
elke koeël deur die borsie van ’n duif,
elke hand wat diertjies op sou stop
om in museums na mens te kyk
met koue oë agter koue glas –
Wat staar die silwer letters ook bedrog?
Jou kat skuur spin-spin teen my been
en helder in my sing ons liedjie weer:
Almal dra ’n jas, ’n jas wat netjies pas!
Ek lê my hand eerbiedig teen die warm vag:
Jou groot bruin oë knipoog om die hoek
en ek hoor jou saggies lag