Читать книгу Stories vir die lewe-omnibus - Piet Naude - Страница 10

4 God wat van stories hou

Оглавление

’n Joodse legende

Daar word vertel dat God destyds verskillende nasies oorweeg het toe Hy moes besluit wie Hy sy uitverkore volk sou maak.

Hy het eerste met die Grieke gaan gesels:

“As Ek julle God sou wees en julle my spesiale volk, wat is daar waarmee julle My sou kon vreugde gee?”

“O, ons sal U eer met die beste kuns in die wêreld en met die uitnemendste denkskemas waartoe die mens in staat is,” antwoord hulle. “Ons groot denkers sal gedigte en dramas oor U skrywe.”

“Dankie vir julle aanbod,” het God gesê.

Hierna is God na die Romeine toe met dieselfde vraag: “Waarmee sal julle My plesier kan gee as ek julle God is en julle my spesiale volk?”

“O, óns sal U eer met die grootste, indrukwekkendste bouwerke van alle tye. Met die beste paaie en die mooiste tempels waarin U aanbid kan word,” was hulle antwoord. “Ons sal ter ere van U die wêreld verower.”

“Dankie vir julle aanbod,” antwoord God en soek verder. Toe dink God aan die Jode, ’n klein, onbelangrike volkie in die Midde-Ooste. Weereens vra Hy: “As ek julle God sou wees, en julle my uitverkore volk, sal daar iets by julle wees waarin Ek My kan verbly?”

“O, God, ons is nie bekend vir ons kuns of ons bouwerk of ons militêre mag nie,” antwoord hulle. “Maar ons is ’n volk van storievertellers. Al wat ons kan aanbied, as U ons God en ons u spesiale volk sou wees, is dat ons u Storie dwarsoor die wêreld sal vertel.”

“Bod toegeslaan!” het God glimlaggend geantwoord.

Stories vir die lewe-omnibus

Подняться наверх