Читать книгу Stories vir die lewe-omnibus - Piet Naude - Страница 23

15 Diskriminasie?

Оглавление

’n Duitse legende

Dietrich was ’n arm arbeider wat sy hoop gevestig het op ’n beter bedeling in die lewe hierná. Toe hy die dag sterf, beland hy in die ry wat voor die hemelpoorte wag om ingelaat te word. Die man ná hom sit met ’n aktetas op sy skoot en aan die dokumente wat hy lees, sien Dietrich dat hy ’n ryk sakeman is.

Kort daarna gaan die hekke weer oop en Petrus nooi die ryk man om in te kom. Vies kyk Dietrich hulle agterna, want hy was eerste daar. Deur die goue hekke sien hy tot sy verdere verbasing dat daar ’n hele verwelkoming vir die man gereël is! Daar is keurige eetgoed. ’n Massakoor sing vir hom ’n Bach-koraal. Petrus maak ’n kort toespraak en sluit af met: “Baie, baie welkom in die stad van God, Adolf. Maak jou tuis.” En oral in die strate staan hemelbewoners wat opgewonde juig en wuif.

Toe die geraas bedaar, maak Petrus weer die hekke oop en wink vir die arm man. Petrus sit sy arm om Dietrich en sê hartlik: “My broer, baie welkom in die stad van God. Maak jou tuis.” Maar daar is geen sprake van hemelkore en ’n juigende menigte nie.

Dietrich was baie seergemaak. “Die hemel is darem die laaste plek waar ek diskriminasie verwag het!” kla hy by Petrus. “My hele lewe lank moes ek sien hoe die rykes voorregte geniet wat ons arm mense ontsê is. Ek het altyd geglo dat daar in die stad van God geregtigheid sal wees, maar nou moet ek sien dat ons hier ook maar nie gelyk is nie. Dis maar weer die ryk man wat voor my bedien en van wie daar ’n ophef gemaak word. Daar was geen skares of kore om my te verwelkom nie!”

“My liewe vriend,” glimlag Petrus, “ek kan insien dat dié gulle verwelkoming vir jou na diskriminasie lyk, maar jy kan seker wees dat julle hier in elke opsig volkome gelyk is.

“Maar nou moet jy ook verstaan dat vandag ’n baie spesiale geleentheid vir ons is. Hier kom elke dag arm mense in die hemel aan, maar dis die eerste keer in 80 jaar dat hier ’n ryk man inkom!”

___________________________________

Dit is makliker vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te kom as vir ’n ryke om in die koninkryk van God te kom.

JESUS CHRISTUS

Ons tjekboeke wys dikwels meer van ons gesindheid teenoor God as ons gesangboeke.

HELMUTH THIELICKE

Stories vir die lewe-omnibus

Подняться наверх